Wednesday, 24 February 2016

Ek stem vir kleurvolle onderwys


Sean Michael Morris se artikel “Critical Pedagogy in the Age of Learning Management” het my brein aan die gons. Vandat ek met my nagraadse onderwyssertifikaat begin het, het ek baie begin dink aan die manier waarop ek eendag wil klas gee en aan die tipe voetspore wat ek eendag wil los. Alhoewel ek presies geweet het hoe ek voel, het ek nie geweet hoe om dit te verwoord nie, toe verwoord @slamteacher dit namens my.

‘n Helse groot deel van onderrig IS f**ken belaglik. Ons verwag van kinders om hulle kreatiwiteit by die huis te los en inligting soos sponsies te absorbeer. In my geestesoog sien ek kinders wat met leë oë na hope feite staar met die hoop om alles vir die toets te onthou. Waarom is dit lagwekkend of onrealisties om Robin Williams te wil wees? Ek het Dead Poets Society vir die eerste keer in graad 10 gekyk en dit het my uitkyk op die lewe drasties verander. In kontras met my onderwysers het hy leerders geïnspireer, gemotiveer en hulle laat dink! Ek wou nie meer leer nie, ek wou ook dink! Die vooruitsig dat ek eendag so passievol soos hy kan wees het my opgewonde gemaak vir ‘n pos in die onderwys.

Alhoewel verskeie mense die idee van aanlyn onderwys aanmoedig, is ek nog baie skepties daaroor. Leerders moet weet hoe ‘n ou boek ruik as hy lank in die biblioteek gestaan het. Hulle moet potloodpunte breek van haastig skryf omdat die woorde net te dringend op die papier wil staan. Nes @slamteacher wil ek, as onderwyser, met hulle redeneer en hulle laat wonder. Hulle moet op dieselfde dag kwaad,stil, nuuskierig en opgewonde raak oor die goed wat in ‘n klaskamer bespreek word.

Nes @jessifer verstaan ek dat digitale en aanlynonderwys onafwendbaar is. Ek weet dat hierdie tipe onderwys baie voordele het indien dit reg gebruik word, maar ek stem ook saam dat ons op twee verskillende rigtings moet fokus. Aan die een kant moet ons digitale onderwys verwelkom, maar aan die ander kant moet ons ook gefokus bly op die persoonlike en fisiese aspekte van onderwys. Skool is ‘n tydperk waar kinders leer hoe om verhoudings te bou.

Sonder die “hands on” deel van onderwys gaan ons sosiaal onaanpasbare kinders opvoed wat nie kan redineer, argumenteer of wonder nie. Onderwys moet kleurvol en interaktief bly, anders moedig ons ‘n grys wêreld aan.



Tuesday, 16 February 2016

Ek begin nou verstaan

Met die aanvang van die eerste Digitale Pedagogie klas, het my moed in my skoene gesak. Wat op dees aarde moet ek as nagraadse student met 'n "blog" doen en waar moet ek die tyd kry om sinnelose gebabbel met die internet te deel? Verder het ek (as Facebook-verslaafde) myself doelbewus vir so lank van Twitter weerhou. Waarom word ek as onderwysstudent dan nou in 'n sosiale media-lokval ingedwing?

Hierdie was die oningeligte vooroordele van iemand wat nie verstaan het dat sosiale media op meer as een manier gebruik kan word nie. Ek het Twitter met skinderstories geassosieer en ook gedink dat Blogger slegs deur huisvrouens gebruik word om resepte met mekaar te deel. Nes Mark Bauerlein was ek nie net skepties oor sosiale media nie, maar ook oor die gebruik van tegnologie in die klaskamer. As student moes ek vele male my gape wegsteek terwyl ‘n onentosiastiese onnie sinne van Power Point skyfies af lees. Nes Fyfer in die voorgeskrewe artikel verduidelik, was ek ook aanvanklik bang dat tegnologie en sosiale media veroorsaak dat onderrig vereenvoudig word tot aandagspunte en YouTube videos.

Nadat ek Fyfer se artikel gelees het besef ek egter dat tegnologie en sosiale media nie ten doel het om onderrig oor te neem nie, maar dat dit eerder onderrig wil verryk. Fisiese onderrig en tegnologiese toestelle vorm aparte hulpbronne wat saam werk om studente te stimuleer. Ek verstaan nou dat Sosiale media gebruik kan word om groot hoeveelhede inligting aan studente oor te dra. Dit skep ‘n platform waarop hulle enige tyd van die dag idees en inligting met mekaar kan deel. Onderrig en leer word nie meer net tot die klaskamer beperk nie, maar is enige plek en enige tyd van die dag moontlik. Studente word aangemoedig om hulle eie inligting te vind en hulle eie gevolgtrekkings oor hulle bevindinge te maak. Hulle word nie alleenlik gestimuleer deur ‘n onderwyser wat moontlike vooroordele het nie. Al die studente het die geleentheid om opinies te hê en hulle opinies met die res van hulle klasmaats te deel.


Fyfer het baie van my opinies en vooroordele rakende tegnologie en sosiale media verander. Voorheen het ek net moontlike probleme en hindernisse raakgesien, nou sien ek eerder geleenthede vir groei.