Tuesday, 15 March 2016

Onderwys met betekenis

Hierdie week se video en leesstuk het veroorsaak dat ek my vooropgestelde idees rakende my toekomstige klaskamer bevraagteken. Voor my eerste glaskas-geleentheid het ‘n lektor vir my gesê “beplanning is alles en lyk in beheer! Wees gereed vir enige vrae en maak seker dat jy die leerders vir die volle 25 minute besig kan hou”. Hierdie klein bietjie raad het my bygebly en daartoe gelei dat ek my hele les soos ‘n mondeling kon opsê. Net soos Abby Wills het ek al die verantwoordelikheid van die leerproses op myself geneem en nie my leerders vertrou nie. Ten spyte van my netjies getikde beplanning was ek steeds op my senuwees omdat my les vals en onnatuurlik gevoel het. Op die oggend van my les het ek vroeg na die lokaal toe gegaan, die deur toegemaak en my ‘mondeling’ begin oefen. Na 5 min het my les net so leeg soos die skoolbanke gevoel.

Ek het skielik besef dat ek nie die ‘perfekte’ onnie met ‘perfekte’ lesse wil wees nie. Ek wou nie gereed wees vir al die moontlike uitkomstes nie want hoe sou my leerders iets leer as ek hulle instop met informasie wat ek gevind het? My les het toe eerder begin met ‘n hartelike verwelkoming en “dit is vir my ‘n voorreg om julle hier te hê”. Ek het elkeen se oog gevang en kon voel hoe ‘n kombers van kalmte om my vou en ook oor hulle gaan lê. Weg was my netjiese beplanning en fancy Afrikaanse woorde. Ek was nie verhewe bo my leerders nie en het hulle gretige hande-in-die-lig met opregte belangstelling gegroet. Hierdie ervaring skakel vir my baie goed met die video wat aanvoer dat onderwysers toeganklik moet wees.

Nes die video verduidelik, glo ek ook dat positiewe verhoudings en belangstelling van die onderwyser se kant sal lei tot betrokke leerders. ‘n Klaskamer moet nie net die kognitiewe behoeftes van leerders aanspreek nie, maar eerder fokus op hulle algehele welstand. Die kurrikulum moet soms eenkant gesit word met die doel om ook op leerders se emosionele en sosiale behoeftes te fokus. Hoe gemakliker leerders voel, hoe meer gretig gaan hulle wees om deel te neem in besprekings en aktiwiteite. Leerders se betrokkenheid en kwaliteit van betrokkenheid sal toeneem sodra onderwysers ‘n omgewing skep waarin leerders gemaklik voel om hulle opinies te laat tel.

Ek as toekomstige onderwyseres kan nie wag om eendag my rotang neer te sit en leerders te help om hulself en mekaar te leer nie.

Wednesday, 9 March 2016

Eindelose potensiaal

Die potensiaal van tegnologies-bemiddelde selfgerigte/afstandsleer is eindeloos.
Die gebruik van tegnologie tydens afstandsleer verwys na die verskillende tipes tegnologieë wat gebruik kan word om onderwys te vergemaklik, verbeter en ondersteun. Hierdie tegnologieë sluit selfone, rekenaars, televisies, blogs, DVD’s en ander sosiale netwerke in.

Die gebruik van tegnologie tydens afstandsleer sal die mees uitdagende en stresvolste kwessies van afstandsleer aanspreek. Tegnologie sal sorg vir die wegdoening van handboeke en ander fisiese materiaal wat deur middle van pos na leerders toe gestuur moet word. Daar sal nooit weer probleme wees met handboeke wat laat is of verkeerde handboeke wat afgelewer word nie. Afstandsleer gaan dikwels gepaard met ‘n tekort aan kommunikasie en interaksie tussen student en opvoeders wat dan lei tot vertraagde inhandiging van take. Hierdie onnodige stres en frustrasie lei dikwels daartoe dat studente hulself van afstandsleer onttrek bloot omdat dit te ongeorganiseerd is.  
Tegnologie maak dit moontlik dat asseserings op blogs gedoen word. Leerders stuur nie net hul taak na hul opvoeder toe nie, maar deel dit ook met die res van hulle aanlyn-klas. Blogs skep ‘n platform waarop leerders van ander se werk kan leer en ook terugvoering van mekaar kan ontvang. Tegnologiese probleme kan hierdie idiliese scinario bemoeilik, maar dit is niks erger as boeke wat in die pos verlore raak nie.

Verder kan televisies, DVD’s  en podcasts ingespan word om lesse vir leerders aan te bied. Baie leerders maak nie van selfleer gebruik nie omdat hulle fisiese onderrig benodig/ verkies. Reedsgenoemde hulpmiddelle sal dit vir hierdie leerders moontlik maak om ook van selfleer gebruik te maak aangesien hulle lesse op die internet / televisie kan kyk. Wanneer leerders antwoorde op unieke vrae soek, is hulle ook nie tot enkele handboeke verbind nie. Leerders kan van die internet gebruik maak om verskeie antwoorde op vele vrae te kry.

Daar kan moontlik van ‘n “aanlyn-skool” gebruik gemaak word waar leerders moet aanteken om take te doen. Dit sal baie ooreenstem met SunLearn, behalwe dat opvoeders boek kan hou van die aantal ure wat leerders op die webtuiste spandeer. Leerders sal kan kies watter tyd van die dag hulle die beste pas om aan te teken en take te voltooi. Leerders wat d.m.v. eie inisiatief moet leer sal hulle werk dalk uitstel tot op die laaste nippertjie en hulle take dan af jaag. ‘n Aanlyn webtuiste sal hulle egter motiveer om meer gereeld te werk aangesien hulle vordering dopgehou word. Die internet en blogs skep ook ‘n geleentheid vir baie unieke en kreatiewe aktiwiteite. Leerders kan gevra word om hulle eie webtuistes te skep of om You Tube videos op die internet te laai.


Hierdie is maar net ‘n paar idees van hoe tegnologie gebruik kan word want soos ek reeds genoem het, is die potensiaal eindeloos.

Wednesday, 2 March 2016

Die moontlikhede is eindeloos

Elke liewe artikel wat ek oor digitale pedagogie lees bevraagteken alles wat ek gedink het ek weet. Ek het vas geglo dat elektroniese toestelle en media kinders se aandag aftrek en dat dit nie ‘n plek in die klaskamer het nie. Die skrywers van die verskeie artikels wat ons nou al gelees het begin my egter anders oortuig. Ek raak opgewonde oor die moontlikhede van ‘n digitale klaskamer en het al reeds begin dink aan hoe ek eendag tegnologie wil gebruik om die leerproses te verryk.

In my opinie word leerders nie in gevaar gestel wanneer hulle geleer word hoe om blogs te gebruik of e-posse te stuur nie. Hierdie is vaardighede wat leerders in vandag se tyd in elkgeval by hulle vriende gaan leer. Die klaskamer is ‘n plek waar leerders geleer kan word hoe om hierdie vaardighede op ‘n veilige manier te gebruik. Leerders moet juis ingelig word oor die gevare en lokvalle daar buite. As onderwysers vir leerders leer hoe om veilige media-gebruikers te wees, sal ‘n hele nuwe wêreld vir hulle oop gaan.

Wanneer ek met my klas ‘n roman soos Fiela se kind behandel, kan ek my klas in groepe opdeel en ‘n karakter in die roman aan elke groep toeken. Hulle moet dan ‘n Facebook-profiel van hierdie karakter skep waar hulle fotos en statusse moet gebruik om hierdie karakter uit te beeld. Al die karakters kan mekaar op Facebook “friend” en so op hoogte van mekaar se Facebook-blaaie bly. Hierdie sal sorg vir baie interaksie en kinders gaan gemotiveerd wees om die karakters te verstaan sodat hulle ‘n gepaste profiel kan skep.

‘n Blog sal ook baie goed werk vir die kreatiewe skryfkunde deel van die kurrikulum. Opstelle op papier word gemerk, weggesit in ‘n boks, van vergeet en weggegooi aan die einde van die jaar. Baie goeie skryfstukke word nooit deur die res van die leerders gelees nie en so word talent gemors. Verder vergeet leerders hoe hulle as skrywers groei as hulle nie op ou werkstukke terug kan kyk nie. ‘n Blog as ‘n platform waarop skryfwerk gedoen word sal al bogenoemde probleme oplos. Leerders sal meer moeite doen aangesien hulle meer lesers het en skryfwerk sal gedokumenteer word. Indien ‘n Leerder in Gr8 met’n blog begin, sal hulle teen die einde van matriek ‘n baie groot portefeulje opgebou het. Die leerder en die ouers sal die groei kan waarneem.


Alhoewel bogenoemde voorbeelde baie eenvoudig is, weet ek dat die leer-moontlikhede met digitale pedagogie eindeloos is. 

Wednesday, 24 February 2016

Ek stem vir kleurvolle onderwys


Sean Michael Morris se artikel “Critical Pedagogy in the Age of Learning Management” het my brein aan die gons. Vandat ek met my nagraadse onderwyssertifikaat begin het, het ek baie begin dink aan die manier waarop ek eendag wil klas gee en aan die tipe voetspore wat ek eendag wil los. Alhoewel ek presies geweet het hoe ek voel, het ek nie geweet hoe om dit te verwoord nie, toe verwoord @slamteacher dit namens my.

‘n Helse groot deel van onderrig IS f**ken belaglik. Ons verwag van kinders om hulle kreatiwiteit by die huis te los en inligting soos sponsies te absorbeer. In my geestesoog sien ek kinders wat met leë oë na hope feite staar met die hoop om alles vir die toets te onthou. Waarom is dit lagwekkend of onrealisties om Robin Williams te wil wees? Ek het Dead Poets Society vir die eerste keer in graad 10 gekyk en dit het my uitkyk op die lewe drasties verander. In kontras met my onderwysers het hy leerders geïnspireer, gemotiveer en hulle laat dink! Ek wou nie meer leer nie, ek wou ook dink! Die vooruitsig dat ek eendag so passievol soos hy kan wees het my opgewonde gemaak vir ‘n pos in die onderwys.

Alhoewel verskeie mense die idee van aanlyn onderwys aanmoedig, is ek nog baie skepties daaroor. Leerders moet weet hoe ‘n ou boek ruik as hy lank in die biblioteek gestaan het. Hulle moet potloodpunte breek van haastig skryf omdat die woorde net te dringend op die papier wil staan. Nes @slamteacher wil ek, as onderwyser, met hulle redeneer en hulle laat wonder. Hulle moet op dieselfde dag kwaad,stil, nuuskierig en opgewonde raak oor die goed wat in ‘n klaskamer bespreek word.

Nes @jessifer verstaan ek dat digitale en aanlynonderwys onafwendbaar is. Ek weet dat hierdie tipe onderwys baie voordele het indien dit reg gebruik word, maar ek stem ook saam dat ons op twee verskillende rigtings moet fokus. Aan die een kant moet ons digitale onderwys verwelkom, maar aan die ander kant moet ons ook gefokus bly op die persoonlike en fisiese aspekte van onderwys. Skool is ‘n tydperk waar kinders leer hoe om verhoudings te bou.

Sonder die “hands on” deel van onderwys gaan ons sosiaal onaanpasbare kinders opvoed wat nie kan redineer, argumenteer of wonder nie. Onderwys moet kleurvol en interaktief bly, anders moedig ons ‘n grys wêreld aan.



Tuesday, 16 February 2016

Ek begin nou verstaan

Met die aanvang van die eerste Digitale Pedagogie klas, het my moed in my skoene gesak. Wat op dees aarde moet ek as nagraadse student met 'n "blog" doen en waar moet ek die tyd kry om sinnelose gebabbel met die internet te deel? Verder het ek (as Facebook-verslaafde) myself doelbewus vir so lank van Twitter weerhou. Waarom word ek as onderwysstudent dan nou in 'n sosiale media-lokval ingedwing?

Hierdie was die oningeligte vooroordele van iemand wat nie verstaan het dat sosiale media op meer as een manier gebruik kan word nie. Ek het Twitter met skinderstories geassosieer en ook gedink dat Blogger slegs deur huisvrouens gebruik word om resepte met mekaar te deel. Nes Mark Bauerlein was ek nie net skepties oor sosiale media nie, maar ook oor die gebruik van tegnologie in die klaskamer. As student moes ek vele male my gape wegsteek terwyl ‘n onentosiastiese onnie sinne van Power Point skyfies af lees. Nes Fyfer in die voorgeskrewe artikel verduidelik, was ek ook aanvanklik bang dat tegnologie en sosiale media veroorsaak dat onderrig vereenvoudig word tot aandagspunte en YouTube videos.

Nadat ek Fyfer se artikel gelees het besef ek egter dat tegnologie en sosiale media nie ten doel het om onderrig oor te neem nie, maar dat dit eerder onderrig wil verryk. Fisiese onderrig en tegnologiese toestelle vorm aparte hulpbronne wat saam werk om studente te stimuleer. Ek verstaan nou dat Sosiale media gebruik kan word om groot hoeveelhede inligting aan studente oor te dra. Dit skep ‘n platform waarop hulle enige tyd van die dag idees en inligting met mekaar kan deel. Onderrig en leer word nie meer net tot die klaskamer beperk nie, maar is enige plek en enige tyd van die dag moontlik. Studente word aangemoedig om hulle eie inligting te vind en hulle eie gevolgtrekkings oor hulle bevindinge te maak. Hulle word nie alleenlik gestimuleer deur ‘n onderwyser wat moontlike vooroordele het nie. Al die studente het die geleentheid om opinies te hê en hulle opinies met die res van hulle klasmaats te deel.


Fyfer het baie van my opinies en vooroordele rakende tegnologie en sosiale media verander. Voorheen het ek net moontlike probleme en hindernisse raakgesien, nou sien ek eerder geleenthede vir groei.