Sean Michael Morris se artikel “Critical
Pedagogy in the Age of Learning Management” het my brein aan die gons. Vandat
ek met my nagraadse onderwyssertifikaat begin het, het ek baie begin dink aan
die manier waarop ek eendag wil klas gee en aan die tipe voetspore wat ek
eendag wil los. Alhoewel ek presies geweet het hoe ek voel, het ek nie geweet
hoe om dit te verwoord nie, toe verwoord @slamteacher dit namens my.
‘n Helse groot deel van onderrig IS f**ken
belaglik. Ons verwag van kinders om hulle kreatiwiteit by die huis te los en
inligting soos sponsies te absorbeer. In my geestesoog sien ek kinders wat met
leë oë na hope feite staar met die hoop om alles vir die toets te onthou.
Waarom is dit lagwekkend of onrealisties om Robin Williams te wil wees? Ek het
Dead Poets Society vir die eerste keer in graad 10 gekyk en dit het my uitkyk
op die lewe drasties verander. In kontras met my onderwysers het hy leerders geïnspireer,
gemotiveer en hulle laat dink! Ek wou nie meer leer nie, ek wou ook dink! Die
vooruitsig dat ek eendag so passievol soos hy kan wees het my opgewonde gemaak
vir ‘n pos in die onderwys.
Alhoewel verskeie mense die idee van aanlyn
onderwys aanmoedig, is ek nog baie skepties daaroor. Leerders moet weet hoe ‘n
ou boek ruik as hy lank in die biblioteek gestaan het. Hulle moet potloodpunte
breek van haastig skryf omdat die woorde net te dringend op die papier wil
staan. Nes @slamteacher wil ek, as onderwyser, met hulle redeneer en hulle laat
wonder. Hulle moet op dieselfde dag kwaad,stil, nuuskierig en opgewonde raak
oor die goed wat in ‘n klaskamer bespreek word.
Nes @jessifer verstaan ek dat digitale en
aanlynonderwys onafwendbaar is. Ek weet dat hierdie tipe onderwys baie
voordele het indien dit reg gebruik word, maar ek stem ook saam dat ons op twee
verskillende rigtings moet fokus. Aan die een kant moet ons digitale onderwys
verwelkom, maar aan die ander kant moet ons ook gefokus bly op die persoonlike
en fisiese aspekte van onderwys. Skool is ‘n tydperk waar kinders leer hoe om
verhoudings te bou.
Sonder die “hands on” deel van onderwys gaan
ons sosiaal onaanpasbare kinders opvoed wat nie kan redineer, argumenteer of
wonder nie. Onderwys moet kleurvol en interaktief bly, anders moedig ons ‘n
grys wêreld aan.
No comments:
Post a Comment