Elke
liewe artikel wat ek oor digitale pedagogie lees bevraagteken alles wat ek
gedink het ek weet. Ek het vas geglo dat elektroniese toestelle en media
kinders se aandag aftrek en dat dit nie ‘n plek in die klaskamer het nie. Die
skrywers van die verskeie artikels wat ons nou al gelees het begin my egter
anders oortuig. Ek raak opgewonde oor die moontlikhede van ‘n digitale
klaskamer en het al reeds begin dink aan hoe ek eendag tegnologie wil gebruik
om die leerproses te verryk.
In my opinie word leerders
nie in gevaar gestel wanneer hulle geleer word hoe om blogs te gebruik of
e-posse te stuur nie. Hierdie is vaardighede wat leerders in vandag se tyd in
elkgeval by hulle vriende gaan leer. Die klaskamer is ‘n plek waar leerders
geleer kan word hoe om hierdie vaardighede op ‘n veilige manier te gebruik.
Leerders moet juis ingelig word oor die gevare en lokvalle daar buite. As
onderwysers vir leerders leer hoe om veilige media-gebruikers te wees, sal ‘n
hele nuwe wêreld vir hulle oop gaan.
Wanneer ek met my klas ‘n
roman soos Fiela se kind behandel, kan ek my klas in groepe opdeel en ‘n
karakter in die roman aan elke groep toeken. Hulle moet dan ‘n Facebook-profiel
van hierdie karakter skep waar hulle fotos en statusse moet gebruik om hierdie
karakter uit te beeld. Al die karakters kan mekaar op Facebook “friend” en so
op hoogte van mekaar se Facebook-blaaie bly. Hierdie sal sorg vir baie
interaksie en kinders gaan gemotiveerd wees om die karakters te verstaan sodat
hulle ‘n gepaste profiel kan skep.
‘n Blog sal ook baie goed
werk vir die kreatiewe skryfkunde deel van die kurrikulum. Opstelle op papier
word gemerk, weggesit in ‘n boks, van vergeet en weggegooi aan die einde van
die jaar. Baie goeie skryfstukke word nooit deur die res van die leerders
gelees nie en so word talent gemors. Verder vergeet leerders hoe hulle as
skrywers groei as hulle nie op ou werkstukke terug kan kyk nie. ‘n Blog as ‘n
platform waarop skryfwerk gedoen word sal al bogenoemde probleme oplos.
Leerders sal meer moeite doen aangesien hulle meer lesers het en skryfwerk sal
gedokumenteer word. Indien ‘n Leerder in Gr8 met’n blog begin, sal hulle teen
die einde van matriek ‘n baie groot portefeulje opgebou het. Die leerder en die
ouers sal die groei kan waarneem.
Alhoewel bogenoemde
voorbeelde baie eenvoudig is, weet ek dat die leer-moontlikhede met digitale
pedagogie eindeloos is.
No comments:
Post a Comment