Hierdie
week se video en leesstuk het veroorsaak dat ek my vooropgestelde idees rakende
my toekomstige klaskamer bevraagteken. Voor my eerste glaskas-geleentheid het ‘n
lektor vir my gesê “beplanning is alles en lyk in beheer! Wees gereed vir enige
vrae en maak seker dat jy die leerders vir die volle 25 minute besig kan hou”.
Hierdie klein bietjie raad het my bygebly en daartoe gelei dat ek my hele les
soos ‘n mondeling kon opsê. Net soos Abby Wills het ek al die verantwoordelikheid
van die leerproses op myself geneem en nie my leerders vertrou nie. Ten spyte
van my netjies getikde beplanning was ek steeds op my senuwees omdat my les
vals en onnatuurlik gevoel het. Op die oggend van my les het ek vroeg na die
lokaal toe gegaan, die deur toegemaak en my ‘mondeling’ begin oefen. Na 5 min
het my les net so leeg soos die skoolbanke gevoel.
Ek
het skielik besef dat ek nie die ‘perfekte’ onnie met ‘perfekte’ lesse wil wees
nie. Ek wou nie gereed wees vir al die moontlike uitkomstes nie want hoe sou my
leerders iets leer as ek hulle instop met informasie wat ek gevind het? My les
het toe eerder begin met ‘n hartelike verwelkoming en “dit is vir my ‘n voorreg
om julle hier te hê”. Ek het elkeen se oog gevang en kon voel hoe ‘n kombers
van kalmte om my vou en ook oor hulle gaan lê. Weg was my netjiese beplanning
en fancy Afrikaanse woorde. Ek was
nie verhewe bo my leerders nie en het hulle gretige hande-in-die-lig met
opregte belangstelling gegroet. Hierdie ervaring skakel vir my baie goed met
die video wat aanvoer dat onderwysers toeganklik moet wees.
Nes
die video verduidelik, glo ek ook dat positiewe verhoudings en belangstelling
van die onderwyser se kant sal lei tot betrokke leerders. ‘n Klaskamer moet nie
net die kognitiewe behoeftes van leerders aanspreek nie, maar eerder fokus op
hulle algehele welstand. Die kurrikulum moet soms eenkant gesit word met die
doel om ook op leerders se emosionele en sosiale behoeftes te fokus. Hoe
gemakliker leerders voel, hoe meer gretig gaan hulle wees om deel te neem in besprekings
en aktiwiteite. Leerders se betrokkenheid en kwaliteit van betrokkenheid sal
toeneem sodra onderwysers ‘n omgewing skep waarin leerders gemaklik voel om
hulle opinies te laat tel.
Ek
as toekomstige onderwyseres kan nie wag om eendag my rotang neer te sit en
leerders te help om hulself en mekaar te leer nie.
No comments:
Post a Comment